1 Ek is die ware wynstok, en my Vader is die landbouer.
2 Elke loot wat in My nie vrug dra nie, neem Hy weg; en elke loot wat vrug dra, dié maak Hy skoon, sodat dit meer vrug kan dra.
3 Julle is alreeds rein deur die woord wat Ek tot julle gespreek het.
4 Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie.
5 Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie.
6 As iemand in My nie bly nie, word hy uitgewerp soos die loot en verdroog, en hulle maak dit bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand.
7 As julle in My bly en my woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry.
8 Hierin is my Vader verheerlik, dat julle veel vrug dra; en julle sal my dissipels wees.
9 Soos die Vader My liefgehad het, het Ek julle ook liefgehad. Bly in hierdie liefde van My.
10 As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die gebooie van my Vader bewaar en in sy liefde bly.
11 Dit het Ek vir julle gesê, dat my blydskap in julle kan bly en julle blydskap volkome kan word.
12 Dit is my gebod, dat julle mekaar moet liefhê net soos Ek julle liefgehad het.
13 Groter liefde het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende gee.
14 Julle is my vriende as julle alles doen wat Ek julle beveel.
15 Ek noem julle nie meer diensknegte nie, omdat die dienskneg nie weet wat sy heer doen nie. Maar Ek het julle vriende genoem, omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het.
16 Julle het My nie uitverkies nie, maar Ek het julle uitverkies en julle aangestel om vrug te gaan dra en dat julle vrug kan bly, sodat wat julle die Vader ook al in my Naam vra, Hy julle dit kan gee.
17 Dit gebied Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê.
18 As die wêreld julle haat, moet julle weet dat hy My voor julle gehaat het.
19 As julle van die wêreld was, sou die wêreld sy eiendom liefhê. Maar omdat julle nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitverkies het, daarom haat die wêreld julle.
20 Onthou die woord wat Ek vir julle gesê het: 'n Dienskneg is nie groter as sy heer nie. As hulle My vervolg het, sal hulle jul ook vervolg. As hulle my woord bewaar het, sal hulle jul woord ook bewaar.
21 Maar al hierdie dinge sal hulle aan julle doen ter wille van my Naam, omdat hulle Hom nie ken wat My gestuur het nie.
22 As Ek nie gekom en met hulle gespreek het nie, sou hulle geen sonde hê nie; maar nou het hulle geen verskoning vir hul sonde nie.
23 Wie my haat, haat ook my Vader.
24 As Ek nie die werke onder hulle gedoen het wat niemand anders gedoen het nie, sou hulle geen sonde hê nie. Maar nou het hulle dit gesien, en tog het hulle My sowel as my Vader gehaat.
25 Maar die woord wat in hulle wet geskrywe is, moet vervul word: Hulle het My sonder oorsaak gehaat.
26 Maar as die Trooster gekom het wat Ek vir julle van die Vader sal stuur, die Gees van die waarheid wat van die Vader uitgaan, sal Hy van My getuig.
27 En julle getuig ook, omdat julle van die begin af met My is.
28 En die Skrif is vervul wat sê: En Hy is by die misdadigers gereken.
29 En die verbygangers het Hom gesmaad, terwyl hulle hul hoof skud en sê: Ha, U wat die tempel afbreek en in drie dae opbou,
30 verlos Uself en kom af van die kruis!
31 En so het ook die owerpriesters saam met die skrifgeleerdes gespot en vir mekaar gesê: Ander het Hy verlos, Homself kan Hy nie verlos nie.
32 Laat die Christus, die Koning van Israel, nou van die kruis afkom, sodat ons kan sien en glo! Ook die wat saam met Hom gekruisig is, het Hom beledig.
33 En toe dit die sesde uur was, kom daar duisternis oor die hele aarde tot die negende uur toe.
34 En die negende uur het Jesus met 'n groot stem uitgeroep en gesê: Eloï, Eloï, lamma sabagtáni? wat, as dit vertaal word, beteken: My God, my God, waarom het U My verlaat?
35 En sommige van die wat daar staan, hoor dit en sê: Kyk, Hy roep na Elía.
36 Toe hardloop een en maak 'n spons vol asyn en sit dit op 'n riet en laat Hom drink; en hy sê: Wag, laat ons sien of Elía kom om Hom af te haal.
37 Maar Jesus het met 'n groot stem geroep en die laaste asem uitgeblaas.
38 En die voorhangsel van die tempel het in twee geskeur van bo tot onder.
39 En toe die hoofman oor honderd wat daar reg voor Hom staan, sien dat Hy so uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas het, sê hy: Waarlik, Hy was die Seun van God.
40 En daar was ook vroue wat van ver af dit aanskou het. Onder hulle was Maria Magdaléna ook, en Maria, die moeder van Jakobus, die kleine, en van Joses, en Salóme--
41 hulle wat Hom gevolg en Hom gedien het toe Hy in Galiléa was--en baie ander vroue wat saam met Hom opgegaan het na Jerusalem.
42 En toe dit aand geword het, omdat dit die voorbereiding was, dit is die voorsabbat,
43 kom daar 'n vername raadslid, Josef van Arimathéa, wat self ook die koninkryk van God verwag het; en hy waag dit om na Pilatus in te gaan en die liggaam van Jesus te vra.
44 En Pilatus was verwonderd dat Hy al dood was, en hy het die hoofman oor honderd geroep en hom gevra of Hy al lank dood was.
45 En toe hy dit van die hoofman oor honderd verneem het, het hy die liggaam aan Josef geskenk.
46 En hy het linne gekoop, en Hom afgehaal en in die linne toegedraai, en Hom neergelê in 'n graf wat in 'n rots uitgekap was. En hy het 'n steen teen die opening van die graf gerol.
47 En Maria Magdaléna en Maria, die moeder van Joses, het gesien waar Hy neergelê word.